Reis en Toerisme Die reis- en toerisme-bedryf is een van die wêreld se grootste werkgewers en bied baie opwindende beroepe met nimmereindigende avonture en aktiwiteite. Al is daar soveel negatiewe publisiteit met betrekking tot misdaad in Suid-Afrika, bloei die reis- en toerisme-bedryf steeds in ons land. En met die 2010 hoogtepunt om die draai, is daar geen beter tyd om die reis-en toerisme-bedryf te betree as juis nou nie. Alhoewel 'n erkende kwalifikasie jou beslis sal help om werk in die reis- en toerisme-bedryf te kry, kyk werkgewers ook vir kwaliteite soos 'n liefde vir reis, entoesiasme, vriendelikheid, 'n uitgaande persoonlikheid, 'n goeie voorkoms, interkulturele vaardighede en 'n gawe vir bemarking, skakelwese en openbare optrede. Die vermoë om ander tale te kan praat is 'n geweldige voordeel in hierdie bedryf. Werk in reis en toerisme Toeriste-agente berei skedules voor en reël akkommodasie en ander reisdienste vir kliënte - gewoonlik 'n reisagentskap. Hulle bespreek die besonderhede met kliënte om die eindbestemming, tipe vervoer, reisdatums, finansiële kwessies en akkommodasie voorkeure te bepaal. Hulle voorsien kliënte van brosjures wat reisinligting bevat oor die plekke wat hulle gaan besoek, soos geldeenhede of besienswaardighede. Hulle bereken ook die kostes van reis en akkommodasie en kwoteer kostes vir groep toere. Toeriste-agente moet goeie bemarkings- en skakelvaardighede aan die dag lê. Baie van hulle verkies om in 'n spesifieke veld te spesialiseer, soos óf buitelandse óf binnelandse reis, individuele of groep reise, reis na 'n spesifieke geografiese gebied of groep toere. Die pligte van hoofwildbewaarders verskil heelwat - gewoonlik volgens die grootte van die park waar hulle werk. Behalwe vir die gewone bestuur en beheer van wildritte en ander aktiwiteite in die park, verskaf hulle ook besonderhede oor, byvoorbeeld, veiligheidsvereistes of plekke van belang aan besoekers. Hulle moet streng optree wanneer besoekers of werkers die wette en regulasies van die park oortree. Daarbenewens is hulle ook verantwoordelik vir die daarstelling van brandbeveiligingstrategieë; eerstehulp- en reddingsaktiwiteite; die opleiding en toesighouding van park werkers op verskeie gebiede, sowel as administratiewe verantwoordelikhede, soos die opstel van verslae oor aktiwiteite in die gebied en die byhou van park opgawes.  Reis- en toerisme-verenigings GTA Die missie van die Gautengse toerisme-gesag (GTA) is om volhoubare toerisme-ontwikkeling en bemarking in Gauteng-provinsie te stimuleer, te koördineer en te fasiliteer, ten einde 'n wêreldklas bestemming daar te stel wat besigheids- en ander toeriste lok, ons mense sal bevoordeel en tot ekonomiese groei sal bydra. www.visitgauteng.net SAMGA Die Suid-Afrikaanse berggidsvereniging (SAMGA) is 'n vrywillige vereniging van berggidse en bergklim instrukteurs wat daargestel is om professionele gidsdienste vir die groeiende aantal oorsese en plaaslike kliënte in Suid-Afrika se bergagtige gebiede te verseker. Die beweegredes vir hierdie organisasie is die versterking en formalisering van die berggids beroep in suider-Afrika en die voorsiening van opleiding in hierdie bedryf. Die doelstelling is om gehalte-diens en veiligheidstandaarde in die berggids bedryf te verbeter. www.mcsa.org.za NTGASA Die nasionale toeriste-gidsvereniging van Suid-Afrika (NTGASA) verteenwoordig die toeriste-gidskorps van die toerisme-bedryf op beide provinsiale en nasionale vlak. Hierdie vereniging verseker die daarstelling van toepaslike programme en ingrypings deur omvattende en doeltreffende verteenwoordiging en professionalisme. Die doel hiervan is die handhawing van gedefinieerde maatstawwe, standaarde en voorwaardes van die toeriste-gidssektor en sy lede in die Republiek van Suid-Afrika. ww.guidessa.org ASATA Die vereniging van Suid-Afrikaanse reisagente (ASATA) is 'n nie-winsgewende vereniging wat die belange van Suid-Afrikaanse reisagente sedert 1956 verteenwoordig. ASATA bevorder integriteit en sekuriteit in sy hantering van ASATA-lede. ASATA het ook bykans 200 assessor vennote, insluitend maatskappye in die lugredery-, hotel- en motorverhuringsbedrywe, en ander verskaffers en bedryfsvennote. ASATA ondersteun vryhandel sonder die oortreding van reëls en regulasies. www.asata.co.za CTA Die gemeenskapstoerisme-vereniging (CTA) is 'n onafhanklike selfhelpgroep van gemeenskapstoerisme-organisasies, toerisme-inligtingskantore en distrikmunisipaliteite, wat almal betrokke is by die implementering van toerisme op plaaslike en streekvlak in die Republiek van Suid-Afrika. Gemeenskapstoerisme-organisasies is voorsieners van toerisme-inligting aan plaaslike en oorsese toeriste en implementeer toerisme-strategieë op plaaslike vlak. Die CTA is die oorkoepelende liggaam vir sy groeiende ledetal en koppel hierdie belangrike voetsoolvlak komponente aan die toerisme-ontwikkelings en bemarkingsplanne van streeks- en provinsiale owerhede. Dit is 'n lewenskragtige ondersteuningsgroep wat sy geregistreerde lede van raad bedien. www.ctasa.kzn.org.za Vir meer inligting oor werk in die reis- en toerisme-bedryf, kyk asseblief na die September 2006-uitgawe van SA Career Focus Magazine. Deur Chantelle Gradidge
|