Media en Joernalisme
'n Beroep in die media- en joernalisme-bedryf kan wonderlik en opwindend wees - jy kry die kans om allerhande soorte mense te ontmoet en leer soveel oor soveel verskillende dinge! Mediawerkers is gewoonlik daardie mense wat geesdriftig is oor mense, gebeure en plekke, en wat 'n vurige belangstelling in sake van die dag het. Hulle geniet dit om navorsing te doen en skryf stories en artikels om lesers in te lig oor verskeie sake en gebeure in ons alledaagse lewens. Alhoewel die mediabedryf 'n negatiewe konnotasie inhou vir baie mense, geniet baie werkers in hierdie veld dit om artikels te skryf oor gewone mense met ryke ondervindings en inspirerende boodskappe om met ander te deel. So, dit gaan nie net oor skinder oor die rykes en beroemdes nie, en jy hoef nie net op die "slegte" nuus te fokus nie; joernalisme kan op 'n positiewe manier gebruik word om ander aan te moedig en te motiveer - selfs diegene in vergeleë plekke wat inspirerende boodskappe nodig het. Dit is die krag en prag agter hierdie beroep! 'n Mediawerker moet 'n nuuskierige en avontuurlustige geaardheid hê, vasberade en volhardend wees, en gewillig wees om onder druk te werk en volgens streng spertye. Hy of sy moet ook die vermoë hê om met mense te skakel en maklik gesprekke te voer. As 'n joernalis, sal jy daarvoor verantwoordelik wees om navorsing te doen en artikels te skryf, maar selfs die beste skrywers weet dat meeste van die werk deur 'n tweede persoon gelees moet word - gewoonlik om te verseker dat jy jou punt duidelik oordra, jouself nie weerspreek nie en redaksie-beleid gevolg het. Dit is waar die redakteur se taak inkom. Werk in joernalisme en media Redakteurs kies geskrewe materiaal vir koerante, tydskrifte, boeke en ander publikasies, berei dit voor en wysig dit. Hulle besluit watter artikels of ander geskrewe materiaal tot lesers sal spreek en waar die artikels in die publikasie geplaas gaan word. Hulle gee opdragte aan joernaliste en sien toe dat alle aspekte van die produksieproses glad verloop. Hulle mag die opskrifte vir stories skryf, die byskrifte van foto's, of die hoofartikel. Hulle is ook daarvoor verantwoordelik om te verseker dat spertye gehaal word. 'n Redakteur moet hoogs belese wees, vir lang tye kan konsentreer op geskrewe werk, 'n uitstekende algemene kennis hê, goeie organisasievermoë hê, asook goeie bestuurs- en leierskapvaardighede. Kopieskrywers doen gewoonlik navorsing oor hoe potensiële markte mag reageer op advertensie-voorstelle en skryf dan die materiaal om die produkte of dienste te adverteer, gebaseer op die navorsingsbevindinge. Hulle skryf advertensies vir koerante, tydskrifte, rolprentskerms, reklameborde, katalogusse en winkeluitstallings.  Kopieskrywers is ook behulpsaam op gebiede soos besluitneming oor die beste verpakking om te gebruik vir 'n produk of ander soort promosiemateriaal. Hulle moet 'n oplettende en nuuskierige benadering tot mense hê, weet wat hulle motiveer en 'n insig in menslike gedrag hê. Hulle moet innoverend en kreatief wees, die vermoë hê om die betrokke feite raak te vat en te beklemtoon, en natuurlik duidelik en oortuigend kan skryf. Joernalisme en media-verenigings IAJ Die instituut vir die bevordering van joernalisme (IAJ) is in 1992 gestig, toe Suid-Afrika 'n nuwe demokratiese tydvak betree het, om joernalisme te help verbeter. Sedertdien het duisende mense al deur die instituut se deure gekom. Die IAJ plaas spesiale klem op interaktiewe leer en bied deelnemers ruimte om hul vaardighede te ontwikkel deur bespreking, rolspel en praktiese oefeninge. Hulle vervul hul missie deur doelmatige opleiding te bied (groot media-huise stuur gereeld studente aan hulle en nooi mense uit om bydraes te maak vir hul in-huis opleiding); die fasilitering van Afrika media-netwerking (hulle is lede van die suider-Afrikaanse media-opleidingsnetwerk en ontmoet gereeld met streekskollegas en maak, deur middel van beursprogramme, dit moontlik vir joernaliste van Afrika om by die IAJ, asook by deelhebbende organisasies, te studeer); hulpverlening aan joernaliste van minder bevoorregte agtergronde deur te verseker dat die klas-samestelling diversiteit weerspieël en gelykheid aanmoedig; die stimulering van gesonde waardes in nuusverslaggewing; die verhoging van professionele standaarde; die onderskraging van vryheid van spraak en inligting; en die bestryding van alle vorms van diskriminasie (etiese en geslagskwessies word as van kernbelang geïnkorporeer in al die hoof kursusse wat IAJ aanbied, en gespesialiseerde programme, wat riglyne bied vir verslaggewing oor ras en etnisiteit, word jaarliks aangebied). In 1995, het die IAJ een van die eerste "Reporting Aids"-kursusse in Suid-Afrika aangebied, en hulle hou gereelde programme om joernaliste op datum te hou met hul dekking van die pandemie. www.iaj.org.za Suid-Afrikaanse instituut vir draaiboekskryf (SASI) SASI het ten doel om kwaliteit vaardigheidsopleiding aan draaiboekskrywers op alle vlakke te voorsien en om die sentrum van professionalisme vir Suid-Afrikaanse draaiboekskrywers te word. Hul doelstellings is: om basiese opleidingsprogramme in draaiboekskryf na alle provinsies en alle mense te neem; om aan voorheen minder bevoorregte skrywers toegang te fasiliteer tot die nodige infrastruktuur om hul nering uit te oefen; om talent te identifiseer en werkende skrywers se vaardighede op te skerp; om spesialisopleiding te voorsien om spesialisering en diversifisering aan te moedig; om konsultasie, bespreking en beleidsformulering met betrekking tot die bydrae van film-maak, veral storie-vertelling en draaiboekskryf, te inisieer; om die skryf van draaiboeke te bevorder in skrywers se moedertaal en in hul kulturele konteks; en om 'n fonds te bou van intellektuele eiendom rondom opleidingsmateriaal, wat altyd in besit van draaiboekskrywers sal wees en toeganklik is vir almal. www.thescriptinstitute.org.za Vir meer inligting oor werk in die mediabedryf, sien asb. die Junie/Julie 2007-uitgawe van SA Career Focus Magazine. deur Chantelle Gradidge
|