Maatskaplike en Gemeenskapswerk
Amper alle mense sal op een of ander stadium in hul lewens hulp en ondersteuning benodig soos wat hulle verskeie kruispaaie bereik of probleme langs die pad ondervind. Verhoudingsprobleme, beroepsbesluite, emosionele uitdagings, traumatiese ondervindings - dit is almal gebiede waarop 'n maatskaplike werker behulpsaam kan wees. Maatskaplike werkers en gemeenskapsontwikkelaars werk met die oorsake van maatskaplike of gemeenskapsprobleme en hoe die probleme opgelos kan word. 'n Beroep in maatskaplike werk is daarop gemik om die lewensgehalte van individue te verhoog en hulle te help om hul volle potensiaal te bereik - om hulle te bemagtig om hul eie lewens te verryk. Maatskaplike werk fokus op die interaksie tussen individue, families, groepe, organisasies, gemeenskappe en hul sosiale omgewings. 'n Maatskaplike of gemeenskapswerker kan in 'n verskeidenheid omgewings werk, soos in polisiestasies, skole, hospitale of geestesgesondheidorganisasies. Om die waarheid te sê, word maatskaplike werk dwarsoor die wêreld beoefen, en is dit 'n baie noodsaaklike diens in vandag se samelewing. In ons onstabiele samelewing, sal maatskaplike werkers oor die komende jare deur talle uitdagings en geleenthede gekonfronteer word. Werkers in hierdie veld word opgelei om baie situasies te hanteer - van krisisse en noodgevalle tot alledaagse persoonlike en maatskaplike probleme. Die etiek van menseregte en maatskaplike geregtigheid vorm 'n baie belangrike fondasie in die maatskaplike werksektor.  Geleenthede in maatskaplike en gemeenskapswerk 'n Speelterapeut werk met kinders wat aan sielkundige probleme ly, soos depressie, angs en aggressie, of komplekse lewensondervindinge beleef, soos molestering, gesinsgeweld en smart. Speelterapeute help kinders, gewoonlik tussen drie en 11 jaar oud, en soms adolessente, om deur speelaktiwiteit sin uit hierdie kwessies te maak. Speel is 'n kind se natuurlike manier van kommunikasie, en 'n speelterapeut ondersoek verskeie kwessies wat vir die kind moeilik mag wees om op ander maniere uit te druk. 'n Speelterapeut help kinders om meer oor hul situasie te leer, en leer hulle maniere om hul uithouvermoë en hanteringstaktieke te verbeter en, uiteindelik, hul vertroue weer op te bou. Gesinsberaders help lede van 'n gesin om met hul gevoelens en individuele sienings of uitbeeldings van 'n probleemsituasie te deel, en help hulle om oor die beste plan van aksie te besluit om hul probleme op te los. Alle gesinne is uniek, maar elke gesin beleef soms botsings. Hierdie misverstande word gewoonlik redelik vinnig opgelos, maar soms word die probleme onder die mat gevee en word hulle net erger met verloop van tyd. Hoe langer almal die probleem ignoreer, hoe moeiliker is dit om reg te stel - en dit skep net spanning en stres vir almal wat betrokke is. Dit is wanneer die gesinsberader ingeroep word om gesinslede te help om deur hierdie moeilike situasies te kom deur hulle hanteringsvaardighede en vaardighede in gesinsinteraksie, kommunikasie en konflikoplossing te leer. Maatskaplike en gemeenskapswerk-verenigings FAMSA Die gesins- en huweliksvereniging van Suid-Afrika (FAMSA) is daarop gemik om aktief betrokke te wees by die beskerming, bevordering en behoud van gesinslewe deur mense te bemagtig om gesonde verhoudings in huwelike, gesinne en gemeenskappe te bou, te herkonstrueer en te handhaaf. Hul uitgangspunt is dat gesonde en stabiele verhoudings gesonde individue, gesinne en gemeenskappe bevorder. www.famsa.org.za LifeLine LifeLine is 'n goed gevestigde beweging met hoogs opgeleide, gedissiplineerde leke beraders wat 24 uur van die dag as vrywilligers werk en hulself beskikbaar stel aan enigiemand wat enige persoonlike ellende of lewenskrisis beleef. www.lifeline.org.za ASASWEI Die visie van die vereniging wat Suid-Afrikaanse opleidingsinstansies in maatskaplike werk verteenwoordig (ASASWEI) is om, in samewerking met die internasionale gemeenskap, die leidende vereniging vir die bevordering van opvoeding, opleiding en navorsing in maatskaplike werk in Suid-Afrika te wees, in die strewe na verbeterde psigososiale funksionering van individue, gesinne, groepe, organisasies en gemeenskappe, en na menseregte, maatskaplike geregtigheid en gelykheid van alle mense van Suid-Afrika. Die missie is om 'n gemeenskap van opvoeders in maatskaplike werk te handhaaf en te onderhou, wat toegewy is aan die voortgesette ontwikkeling van opvoeding, opleiding, navorsing en die praktyk in die veld van maatskaplike werk in Suid-Afrika. Ten einde sy missie en visie te vervul, is die doelstellings van die vereniging: om samewerking en uitruiling van inligting oor opvoeding, opleiding, navorsing en die praktyk in die veld van maatskaplike werk met die betrokke regerings- en nie-regeringsnetwerke te fasiliteer op nasionale, streeks- en internasionale vlak; om strategieë te ontwikkel wat die erkenning van maatskaplike werk as 'n beroep verbreed; om erkenning van die bydrae van maatskaplike werk tot maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling en tot transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing te bevorder; om die ontwikkeling van toepaslike en plaaslik-spesifieke navorsing, teorie en praktyk te ondersteun; en om by te dra tot die ontwikkeling en implementering van maatskaplike welsyn- en opvoedingsbeleid in die Suid-Afrikaanse konteks. www.asaswei.org.za Vir meer inligting oor werk in die gemeenskap- en maatskaplike sektor, sien asb. die Oktober 2006-uitgawe van SA Career Focus Magazine. deur Chantelle Gradidge
|