Kuns en kultuur
"Die doel van kuns is nie om die uiterlike voorkoms van dinge te verteenwoordig nie, maar hul innerlike betekenis." (Aristotle) "Elke kind is 'n kunstenaar. Die probleem is hoe hy 'n kunstenaar bly wanneer hy volwasse is." (Picasso) Kunstenaars en kunshandwerkers is al sedert die geboorte van ons samelewing in ons midde. Kunstige mense is gewoonlik diegene wat die vermoë het om dinge op oorspronklike en vars maniere te sien. Hulle gebruik hul kreatiwiteit as 'n wyse van kommunikasie – hulle beskryf hul siening van die wêreld en daag ander uit om na die wêreld rondom hulle te kyk vanaf 'n nuwe en ander perspektief. Kunshandwerkers gebruik hul kunsvaardigheid om voorwerpe te ontwerp, te skep en reg te maak, wat voortreflik, oorspronklik en dikwels funksioneel is. 'n Beroep in visuele kunste, kunshandwerk of grafiese ontwerp bied 'n wêreld van geleenthede om jouself uit te druk – van die bestuur van 'n kunsgalery tot eienaarskap van 'n kunshandwerk-stalletjie – wat ook al jou ambisie of belangstelling is, sal jy verseker pret hê in hierdie lyn van werk. Werk in kuns en kultuur Vervaardigers van uithangborde ontwerp en verf uithangborde vir 'n verskeidenheid gebruike soos winkelvensters, historiese geboue, motorvoertuie, vulstasies, lughawens en besighede. Sommige vervaardigers gebruik nog die tradisionele tegnieke (per hand), terwyl ander gebruik maak van rekenaars en digitale tegnologie (gewoonlik vir verligte of elektroniese uithangborde). Alhoewel hulle soms werk volgens die ontwerp wat deur hul kliënte geskep is, is hulle gewoonlik self verantwoordelik vir die skep, voorbereiding en uitleg van die ontwerp. Die installering, oorverf en opknap van uithangborde op perseel is ook dikwels die verantwoordelikheid van die vervaardiger van uithangborde. Materiale wat in die vervaardiging van uithangborde gebruik word sluit in hout, metaal, glas, viniel, Perspex en verskeie soorte verf en vernis. Kennis van rekenaars en rekenaarbeheerde toerusting, of die entoesiasme om te leer, sal voordelig wees wanneer jy hierdie beroep betree. Hoedemakers gebruik hul kreatiewe en kunstige idees om 'n wye reeks kreatiewe hoofbedekkings te ontwerp en te maak – van buitengewone en oorspronklike hoede tot ingewikkelde hoofbedekkings wat met vere getooi is, bruilof hoofbedekkings, kraal-bedekte berets, en selfs gewone, alledaagse hoede om elke individuele smaak en styl te pas. Elke stuk is uniek en handgemaak, en die hoede of hoofbedekkings kan gekleur word om by 'n uitrusting te pas of aan die kliënt se behoeftes en versoeke te voldoen. Meeste hoedemakers werk in 'n studio of klein winkeltjie en hulle woon dikwels verskeie vertonings by om op datum met die nuutste modes te bly. 'n Hoedemaker benodig goeie kunsvaardigheid en 'n gawe vir kleure en tekstiele. Reklame-geleenthede is beperk, omdat dit 'n baie klein bedryf is, maar dit is moontlik om jou eie besigheid te bedryf of jou eie etiket van hoofbedekkings tot stand te bring. Houtkerwers skep dekoratiewe ontwerpe en patrone in hout vir meubels, paneelwerk en ander ornamentele doeleindes. Houtkerwers het gewoonlik 'n aangebore vermoë om goed in 3D te sien en, in hul verbeelding, kan hulle die beelde omskep tot meesterstukke deur gebruik te maak van hul hande. Houtkerwers maak gebruik van handgereedskap of houtwerkmasjinerie. Kerwers mag 'n verskeidenheid gereedskap gebruik, insluitend sae, vyle en graveer gereedskap, en meganiese gereedskap soos 'n staanboor, 'n bandsaag of poleermasjien, of beitels, slypers en afskuurders. Veiligheidstoerusting, soos spesiale skermbrille, stofmaskers en beskerming vir die ore, is dikwels nodig. Kuns- en kultuurverenigings AVA Die hoofprioriteit en doelstelling van die vereniging vir visuele kunste (AVA) is die promosie en bevordering van visuele kuns en kunstenaars in Suid-Afrika, beide gevestig en opkomend, formeel opgelei en self-opgelei. www.ava.co.za Kunshandwerkraad van Suid-Afrika Die kunshandwerkraad van Suid-Afrika (CCSA) is 'n organisasie wat die belange van kunshandwerkers verteenwoordig; tradisionele kunshandwerkvaardighede bewaar as 'n inheemse hulpbron van kennis; uitstekende vakmanskap aanmoedig, ondersteun en bevorder; en saamwerk in 'n netwerk van openbare en privaat organisasies vir die bestendige groei van die kunshandwerksektor. Sy doelstellings is om uitstekende vakmanskap aan te moedig en te ondersteun; om die oordrag van vaardighede te fasiliteer; om begrippe van gehalte en oorspronklikheid in te boesem in die kunshandwerkbedryf; om kunshandwerkmarkte en winkels te identifiseer en te skep; om die wye reeks Suid-Afrikaanse kunshandwerk bekend te stel deur uitstallings, publikasies en kommunikasie; om kunshandwerkkompetisies en uitstallings te koördineer ten einde individuele kunshandwerkers met uitstaande vaardighede te identifiseer; om as 'n inligtingsbron te dien, beide vir kunshandwerkers en daardie lede van die publiek wat met kunshandwerkers in verbinding wil tree; om tradisionele kunshandwerk-vaardighede te ondersteun en te bewaar as 'n inheemse hulpbron van kennis; om die kunshandwerkbedryf te ontwikkel tot voordeel van alle betrokkenes; om kontak te handhaaf met kunshandwerkers, sowel landelik as stedelik, dwarsdeur Suid-Afrika; en om netwerke, samewerking en vennootskappe met beide regerings en nie-regerings organisasies te inisieer en te handhaaf, en op hulle te reageer, vir die bevordering van kunshandwerk op plaaslike, streeks-, provinsiale, nasionale en internasionale vlak. www.craftcouncil.co.za NAC Die doelstellings van die nasionale kunsteraad van Suid-Afrika (NAC) is: om mense geleenthede te bied en aan te moedig om die kunste te beoefen; om waardering, begrip en genot van die kunste te bevorder; om die algemene toepassing van die kunste in die gemeenskap te bevorder; om die uitdrukking van 'n nasionale identiteit en bewustheid te kweek deur middel van die kunste; om die reg van enige persoon tot vryheid in die beoefening van die kunste te handhaaf en te bevorder; om die histories minder bevoorregtes sodanige addisionele hulp en hulpbronne te gee, soos benodig, om hulle groter toegang tot die kunste te gee; om historiese wanbalanse aan te spreek in die voorsiening van infrastruktuur vir die bevordering van die kunste; om nasionale en internasionale skakeling te bevorder en te fasiliteer tussen individue en instellings met betrekking tot die kunste; en om die kunste te ontwikkel en te bevorder en uitmuntendheid aan te moedig. www.nac.org.za Vir meer inligting oor werk op die gebied van kuns en kultuur, verwys asb. na die November/Desember 2007-uitgawe van SA Career Focus Magazine. Chantelle Gradidge
|