Hoof wildbewaarder
Natasha Brits is die hoof wildbewaarder by Lukimbi, die toonaangewende luukse wildreservaat wat in 'n privaat konsessie in die Kruger Nasionale Park geleë is. Sy is vlot in Engels, Afrikaans en Tsonga en is al vir die afgelope ses jaar in hierdie bedryf, waarvan sy 'n jaar en 'n half op Lukimbi deurgebring het. Natasha is lief vir haar werk en sê dat dit soms komies kan wees, veral wanneer gaste vra waar die tiere en bere is. Sy is sedert kleintyd lief vir die bosveld en sê dat dit aan haar ouers te danke is, wat haar gereeld na die Kruger Nasionale Park geneem het. Sy het met ons oor hierdie "wilde" beroep gesels. Fundamentele feite As hoof wildbewaarder, word dit soms van Natasha vereis om die pos van assistant-bestuurder te vul wanneer bestuurders op verlof gaan. 'n Hoof wildbewaarder kan dus ook bekend staan as die assistant-bestuurder en kan meer geld in die Johannesburg-gebied verdien as in die Kruger-wildtuin. Daar is egter sewe konsessies in die Kruger-wildtuin en die hoër-klas toeriste gee baie groter fooitjies. 'n Junior wildbewaarder kan 'n basiese salaris van R2 500 tot R3 000 per maand verdien, wat met fooitjies tot sowat R7 000 per maand kan styg. Werkbeskrywing "Jy neem gaste soggens en smiddae op wild besigtigingsritte uit. Jy sorg dat gaste tuis voel, neem hulle op gidstoere en doen baie administratiewe werk, soos maand-einde boekhouding, die aantekening van diere-waarnemings en opnames van wat in die bos gebeur," sê Natasha. Voor- en nadele "Die voordele," sê sy "is dat ek wonderlike mense ontmoet, ander kulture leer ken, met die plaaslike personeel kan werk en baie buitenshuis werk. Al die wild ritte is anders, so jy sien nie altyd dieselfde ding nie en jy leer jou trop leeus ken." "Die nadele is die lang ure, die feit dat dit soms moeilik kan wees om vir 24 uur 'n dag te glimlag en die moeilike gaste wat eis om leeus te sien wanneer jy hulle nêrens kan vind nie," sê sy. Vereiste studies en ondervinding "In die Kruger-wildtuin het jy baie kwalifikasies nodig," sê Natasha. Sy het wildbewaring en hotelbestuur by die Bush Academy gestudeer. Bo en behalwe so 'n kursus, moet jy ook ten minste drie, maar verkieslik al die studievlakke van die veldgidsvereniging van Suid-Afrika (FGASA) voltooi. Jy sal ook sertifikate in eerstehulp en gevorderde geweerhantering moet verwerf, veral vir die Kruger-wildtuin. "Jy het geen ondervinding nodig nie. Jy moet net jouself opwerk," sê Natasha. Persoonlikheidstipes "Om hierdie werk te doen moet jy baie van mense hou, I uitgaande persoonlikheid hê en geduldig wees en lief vir diere," sê Natasha. 'n Gemiddelde dag 'n Gemiddelde dag vir Natasha begin om 05:00. "Ons vertrek om 06:00 vir ons eerste wild rit en keer gewoonlik so 09:30 terug vir ontbyt. Tussen 10:30 en 11:30 neem ek kliënte vir staptoere en dan is ek van diens af tot 15:00. Die wild ritte saans begin om 16:00 en hou so 19:30 op. Dan geniet ons aandete met die gaste en vergesel hulle na hul kamers, aangesien ons kamp geen heinings het nie. Ek sal gewoonlik met die gaste verkeer totdat hulle moeg is en hulle dan na hul kamers vergesel." Natasha kom gewoonlik eers so 23:00 in die bed. Die beste aspek van die werk "Die diere, die spoorsny en om hulle dan te vind. Die verkeer met die gaste en die verskillende kulture waarmee 'n mens in aanraking kom," glimlag Natasha. Die slegste aspek van die werk "Die lang ure, maar dit is baie lonend aan die einde van die dag," glimlag Natasha. deur Gabrielle Venter
|